

ADVERTISEMENT:

Leon le Roux (regs), saam met sy grootste opponent tydens die kampioenskap, Cedric Kayumba van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK). Le Roux het die titel ingepalm met slegs ’n een-punt-voorsprong bo Kayumba. Foto verskaf.
Date: 31 October 2025 By: Andries van Zyl
Sterkman Leon le Roux van Louis Trichardt het weereens sy krag gewys deur die titel van Afrika se sterkste meester in die ope-afdeling los te slaan. Dit was ná afloop van die Africa’s Strongest-kampioenskappe wat op 25 en 26 Oktober by die Omaramba Vakansieoord naby Buffelspoort in die Noordwes Provinsie beslis is.
Hierdie prestasie volg kort op Le Roux se sukses vroeër vanjaar toe hy op 5 Julie vir die derde agtereenvolgende jaar die Suid-Afrikaanse titel in die onder 105 kg Meesters-afdeling in Durban verdedig het. Die Zoutpansberger het in die verlede reeds vele kere berig oor Le Roux se indrukwekkende loopbaan en toewyding aan die sport van sterkman-kompetisies, en sy jongste oorwinning bevestig hom as een van die land se top atlete in sy gewigs- en ouderdomsklas.
Wat die byeenkoms by Omaramba nog meer besonders maak, was dat Leon as enigste deelnemer in die onder 105 kg-afdeling ingeskryf was, en dus in die Ope Meesters-afdeling moes deelneem teen atlete wat almal meer as 140 kg weeg – tot 40 kg swaarder as hyself. Buiten die gewig was die ouderdomsverskil tussen hom en ander atlete in die Ope Meesters-afdeling tussen agt en 12 jaar.
“My grootste opponent was Cedric Kayumba van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK). Hy is nuut in die Meesters-afdeling, omrede hy nou 40 geword het en 152 kg weeg,” vertel Le Roux.
Die kompetisie het op Saterdag (25ste) begin met die 18-duim Deadlift, waar Leon 310 kg gelig het om tweede te eindig, net ná Kayumba. Die volgende item, die eenarm-Dumbell Press van 70 kg, het Le Roux ongelukkig geen punte besorg nie, maar hy het sterk teruggekeer met die bakkietrek, waar hy twee aanmekaargekoppelde Hilux-bakkies oor 15 meter gesleep het – en met ’n tyd van 16 sekondes (een sekonde voor Kayumba) die item gewen het.
Die dag is afgesluit met die uitdagende Yoke en sandsak-aflos. Deelnemers moes ’n 320 kg Yoke oor 10 meter dra, terughardloop, en ’n 100 kg sandsak oor die Yoke se balk gooi. Le Roux het ook dié item gewen en die eerste dag met ’n een-punt-voorsprong op Kayumba afgesluit.
Sondag se items het bestaan uit die Farmers Carry (130 kg per hand oor 20 meter), waar Le Roux (17,52 sek) slegs ’n tiende van ’n sekonde agter Kayumba (17,41 sek) geëindig het, en die Atlas Stone-item, waar albei vier repetisies van die 130 kg klip kon voltooi. Le Roux se repetisies was egter vinniger, wat hom die oorwinning in die laaste item en uiteindelik die Afrika Meesters Ope-titel besorg het met ’n totaal van 18 punte teenoor Kayumba se 17 punte in die tweede plek.
“Ek hou dus tans die titel van onder 105kg Meesters vir 2024 en Ope Meesters vir 2025,” sê Le Roux trots.
Le Roux het sy sukses toegeskryf aan harde werk, dissipline en die onwrikbare steun van sy gesin. “Ek wil eerstens my vrou Marihan bedank vir haar ondersteuning. Sy moes menige aand alleen by die huis wees terwyl ek tot seweuur in die gimnasium was. Ek het haar nog nie een keer hoor kla nie,” sê hy met waardering.
Hy het ook sy dogter Dandre (wat hom na die kampioenskap vergesel het) bedank vir haar teenwoordigheid en aanmoediging tydens die kompetisie, asook Paul’s Body Shop, Wihan Pieterse, Brig-Gen Mokgwabone en LMB Makhado vir hul ondersteuning en bydraes wat sy deelname moontlik gemaak het.
Hoewel hy onlangs ook uitgenooi is om aan die Official Strongman Games (OSG) in Texas, VSA, deel te neem wat van 21 tot 23 November plaasvind, kon hy ongelukkig weens ’n gebrek aan borgskap nie dié droom hierdie jaar verwesenlik nie. “Miskien volgende jaar,” sê hy optimisties.
Viewed: 1112

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.




