

ADVERTISEMENT:

Generic image.
Date: 17 October 2025 By: Andries van Zyl
Die Louis Trichardt Rugbyklub sal op 31 Oktober hulde bring aan spelers wat die afgelope jaar uitgeblink het tydens die klub se jaareindfunksie en prysuitdeling. In aanloop daartoe het klubvoorsitter Brian du Plooy die afgelope week teruggekyk op ’n baie suksesvolle jaar.
“Graag wil ek al ons borge bedank vir al hul ondersteuning deur die jaar. Sonder hulle sou ons nie kon bereik wat ons bereik het nie. Ons sou nie die klere, rugbytruie en alles wat die klub benodig het, kon bekostig nie,” het Du Plooy gesê.
Du Plooy het gesê die klub waardeer die borge se bydraes, alhoewel hulle dit hierdie jaar nie baie kon wys nie. “Hierdie jaar het ons nie baie tuiswedstryde gehad nie as gevolg van die liga wat deur die unie bepaal word, maar ons hoop dat ons volgende jaar baie meer plaaslike wedstryde sal speel en die gemeenskap weer betrokke kan kry. Ons bedank ieder en elke toeskouer – almal daar buite,” het Du Plooy gesê.
Die Louis Trichardt Rugbyklub se goeie prestasie van die afgelope paar seisoene in die provinsiale liga, asook sy kwalifisering vir deelname aan die Castle Lager Superliga en Gold Cup, het letterlik die dorp op die spreekwoordelike kaart geplaas. “Die mense weet nou waar Louis Trichardt is,” het Du Plooy gesê en bygevoeg dat hulle deur manne genader is wat by Louis Trichardt wil kom afrig. “Maar dit is manne wat verwag dat hulle betaling daarvoor moet kry, soos by die semi-professionele spanne, soos die Naka Bulle, basies al die Carlton Superliga-spanne. Ons kan dit doodeenvoudig nie bekostig nie. Ons speel met die spelers wat ons het – die spelers wat ’n hart daarvoor het,” het Du Plooy gesê.
Soortgelyk is die klub ook genader deur spelers van elders wat vir Louis Trichardt wil kom speel. “Maar op die einde van die dag wil hulle ook vergoeding hê, wat ons as ’n klein plattelandse klub nie kan bekostig nie,” het Du Plooy gesê.
Du Plooy het elke afrigter en sy familie bedank vir al hul insette. “Dit is baie keer selfs uit eie sak gemaak – koste wat hulle self aangaan as gevolg van hul liefde en toewyding aan die klub om ons net nog sterker te maak. Ons het nog baie geleer hierdie jaar,” het Du Plooy gesê.
Wat die komende rugbyseisoen betref, het Du Plooy ’n ope uitnodiging gerig. “Ek wil graag die spelers in die gemeenskap uitnooi wat tans nie deel vorm van ons spelerkomponent of ons klub nie. Daar is baie goeie spelers in die dorp wat tans nie deel is van ons nie, wat ons graag sou wou hê by ons aansluit. Dit kon ons nog net meer ’n gedugte span in die provinsie maak,” het Du Plooy gesê.
Tans moet ’n paar oefenwedstryde nog in Januarie opgestel word vir Louis Trichardt, en op 14 Februarie, op Valentynsdag, is die dorp weer uitgenooi om deel te neem aan die Castle Lager Superliga wat op dié dag afskop. Daarna volg 10 maande van harde klubrugby in beide die provinsiale liga en – sou die klub weer so gelukkig wees – deelname aan die Gold Cup.
Vir meer inligting oor die Louis Trichardt Rugbyklub en hoe om daarby betrokke te raak, skakel Du Plooy by tel. (082) 821-0075.
Viewed: 1517

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.




