

ADVERTISEMENT:

Die Louis Trichardt Rugbyklub se lopie in die Pick n Pay Gold Cup-reeks het Saterdag (4 Oktober) tot ’n einde gekom nadat hulle teen die Naka Bulle, die verdedigende kampioene, in Pretoria vasgeval het. Hierdie is ’n skermgreep van die finale puntetelling tydens die regstreekse stroming van die wedstryd op YouTube.
Date: 10 October 2025 By: Andries van Zyl
Die Louis Trichardt Rugbyklub se lopie in SA Rugby se jaarlikse Gold Cup-reeks, vanjaar geborg deur Pick n Pay, het Saterdag, 4 Oktober, tot ’n einde gekom nadat hulle deur die Naka Bulle in Pretoria kafgedraf is. Met ’n verloortelling van 88–19 was dit ’n wedstryd van twee helftes, en die telling was nie ’n ware refleksie van die passie en ywer wat Louis Trichardt se manne na die wedstryd gebring het nie.
Louis Trichardt se manne het die Naka Bulle, die verdedigende kampioene, goed gehou in die eerste helfte. Met die telling op 24–0 het Louis Trichardt se eerste punte in die wedstryd gekom van regtervleuel Eugene Makhubdu, wat agter die pale gaan kuier het. Sy drie is verdoel deur skrumskakel Louis Fourie.
Die besoekers uit die noorde se volgende drie sou in die 36ste minuut van die wedstryd aangeteken word, met die telling op 31–7. Louis Trichardt-losskakel Brian Vermeulen het die Naka Bulle se verdediging uitoorlê en gaan druk ná puik spel deur Louis Trichardt vanaf ’n voordeelposisie. Fourie kon ook dié drie verdoel. Met die blaas van die halftydfluitjie was die telling 45–14 in die Naka Bulle se guns.
Louis Trichardt het ewe passievol die tweede helfte begin. Die span se enigste punte sou egter ’n drie wees deur Louis Trichardt se linkervleuel, Junior Mnisi. Dié drie kon nie verdoel word nie. Intussen het die Naka Bulle die telbord aan die gang gehou, en die wedstryd het geëindig op 88–19 in die Naka Bulle se guns.
“Die manne het goeie duikslae ingekry. Ek dink Naka het dit gevoel. Hulle het ná die wedstryd gesê hulle was nog nooit so platgetrek deur die manne van die platteland nie,” het die voorsitter van die Louis Trichardt Rugbyklub, Brian du Plooy, ná afloop van die wedstryd gesê.
Du Plooy was trots op sy spelers, maar het gesê hulle het ’n paar foute gemaak wat hulle duur te staan gekom het. “Dit was ’n harde wedstryd! Die eerste helfte was naby gewees, maar in die tweede helfte het ons definitief gegly op die punte. Ons het onnodige drieë afgestaan wat eintlik voorkom kon gewees het,” het Du Plooy gesê.
Maar, het Du Plooy bygevoeg, dit is maar deel van die spel. “Hulle is darem die verdedigende kampioene, en ons gee hulle hul wen, maar die punte dink ek weerspieël nie die wedstryd self nie. Ons het hulle goed voor vasgevat en op die middelveld, maar ons het gegly met ons verdediging op die buitekante. Dit was waar hulle vinnig drieë kon aanteken,” het Du Plooy gesê.
Met Louis Trichardt nou uit die Gold Cup-reeks beteken dit nie die dorp se spelers sal vir lank stilsit nie. “Vir nou is die manne eers ’n bietjie af vir ’n maand. Dan moet hulle weer begin voorberei. Ons het ’n paar oefenwedstryde wat nog opgestel moet word in Januarie, en op 14 Februarie, op Valentynsdag, is ons weer uitgenooi om deel te neem aan die Castle Lager Superliga wat op dié dag afskop. Dan is dit weer ’n harde 10 maande van rugby as ons alles weer kan deurtrek — wat ek glo ons kan,” het Du Plooy gesê.
Viewed: 1242

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.




