ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Louis Trichardt se eerste rugbyspan, afgeneem in Welkom waar hulle Saterdag, 27 September, die manne van die Noord-Vrystaat geklop het om deur te dring na die tweede ronde van SA Rugby se Pick n Pay Gold Cup. Die wedstryd eerskomende Saterdag, 4 Oktober, gaan egter nie ’n maklike een wees nie, wanneer hulle in Pretoria uitdraf teen die verdedigende kampioene, die Naka Bulle. Foto verskaf.

Dorp oor eerste hekkie in Gold Cup

Date: 03 October 2025 By: Andries van Zyl

Die vreugdevure het Saterdagaand hoog gebrand vir plaaslike rugby-ondersteuners, nie net oor die Springbokke se oortuigende oorwinning oor Argentinië nie, maar ook oor Louis Trichardt se eerste span se oorwinning in hul openingswedstryd van SA Rugby se Pick n Pay Gold Cup-reeks.

Louis Trichardt het in hul openingswedstryd te staan gekom teen die Welkom Rugbyklub in Welkom. Vir Louis Trichardt was dit ’n nuwe ervaring, aangesien hulle nog nooit voorheen teen die manne van die Noord-Vrystaat, oftewel die Griffons, gespeel het nie.

“Dit was ’n harde wedstryd. Daardie is ’n klomp harde manne,” het Louis Trichardt se klubvoorsitter, Brian du Plooy, gesê.

Louis Trichardt se manne het aan die einde van die eerste helfte 10–0 voorgeloop. Louis Trichardt se puntemakers was Leroy Ndlovu, wat met ’n strafskop hul rekening oopgemaak het. Dit is opgevolg deur ’n drie deur Denzel Dhlamini, wat deur Ndlovu verdoel is.

“Maar Welkom het in die tweede helfte goed teruggekom, en ons het basies in die doodsnikke van die wedstryd ’n drie gaan druk, met Louis Fourie wat ’n bitter moeilike doelskop van teenaan die kantlyn deur die pale gestuur het,” het Du Plooy gesê. Dit het die finale telling op 20–18 in Louis Trichardt se guns geswaai. Ook Louis Trichardt se tweede drie is deur Dhlamini aangeteken, met Fourie wat ook suksesvol was met ’n tweede strafskop tydens die tweede helfte. Fourie is boonop aangewys as Speler van die Wedstryd.

Oor die opdraande stryd wat vir Louis Trichardt se manne eerskomende Saterdag, 4 Oktober, voorlê, het Du Plooy geen illusies nie. Hulle sal om 13:00 afskop teen die Naka Bulle, die verdedigende kampioene in die Gold Cup-reeks, in Pretoria.

“Dit gaan ’n strawwe wedstryd wees. Niks is maklik in hierdie Gold Cup-reeks nie, maar die manne sien positief uit na die wedstryd. Hulle sien kans vir elke span in hierdie land,” het Du Plooy gesê.

Ter voorbereiding van Saterdag se wedstryd het Du Plooy gesê die manne is ontspanne, alhoewel daar ’n paar ligte beserings is waaraan hulle werk en wat hopelik uitgesorteer sal wees voor die naweek. “Ons gaan geensins terugstaan vir die Naka Bulle nie en ons gaan alles gee wat ons het ... Ons hoop om positief uit te kom aan die ander kant. Niemand is onoorwinlik nie,” het Du Plooy gesê.

Buiten vir Limpopo se Louis Trichardt- en Northam Rhinos-spanne, bestaan die res van die 16 spanne in die noordstreek wat aan vanjaar se Gold Cup deelneem, uit die Naka Bulle, Safcol United as die wild card-span, die Bulle se Pretoria Harlequins en Centurion, die Luiperds se Northam Wolves en Sibanye, die Leeus se Raiders en Pirates, die Valke se Vereeniging en Brakpan, die Pumas se Witrivier en Nelspruit, en die Griffons se Welkom Rugbyklub en Welkom Rovers.

 

 
 
 

Viewed: 1335

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

 
 

Most Read Articles

 
 

Sponsored Content

Recent Headlines