ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Hoërskool Louis Trichardt se fietsryspan, afgeneem na afloop van die vierde en finale ronde van die Limpopo Skole XCO-liga op Saterdag, 27 September. Die skool tree as algehele wenner van die liga uit die stryd. Foto verskaf.

Triegies kraai koning in Limpopo XCO-liga

Date: 02 October 2025 By: Karla van Zyl

Die finale ronde van die Limpopo Skole XCO-fietsryliga is op Saterdag, 27 September, by Merensky Landbou Akademie in Tzaneen beslis. Hoërskool Louis Trichardt het hier sterk vertoon en as algehele wenners van die liga weggestap met 675 punte.

Merensky Landbou Akademie het tweede geëindig met 433 punte, gevolg deur Pietersburg Hoërskool in derde plek met 316 punte.

In die laerskool-afdeling het Pietersburg Oosskool koning gekraai met 748 punte, terwyl Laerskool Louis Trichardt (562 punte) en Laerskool Krugerpark (405 punte) onderskeidelik tweede en derde geëindig het.

Louis Trichardt se jong trappers het deurgaans goeie prestasies behaal. Wat Saterdag se laaste liga-wedren betref, het Salem Signer en Amelia Scheepers beide derde plekke ingeneem in die junior o.18-afdeling, terwyl Maxelo Baloyi, Mijanke Venter en Shudu Raphala hul afdelings ook sterk verteenwoordig het. André van Ree het met ’n tweede plek in die Youth o.16-afdeling uitgeblink, met spanmaat Peroux du Preez wat negende geëindig het. In die meisies-afdeling het Chrizette Odendaal (vierde) en Danae Schuch (agtste) die span se punte aangevul.

Nog ’n hoogtepunt was Eli Signer, wat die eerste plek in die Youth seuns o.15-afdeling losgetrap het. Cara Bruce het derde geëindig, met spanmaats Liané Smit (sesde) en Mikeila Scheepers (sewende) kort agter haar. In die sub-junior meisiesafdeling het Angelique Steyn die wenposisie behaal, met Klara Swart wat agtste geëindig het.

In die laerskoolgroepe was daar ewe veel talent. Mauritz Meiring (tweede) en Christopher Swart (derde) het in die Sprog seuns o.12-afdeling podiumplekke verower, terwyl Luan Smit eerste geëindig het in die seuns o.11-afdeling. In die jonger kategorieë het Evené Botha goud behaal in die sub-Nipper meisies o.8-afdeling, en Gunther Joubert tweede plek in die seuns o.9-afdeling.

Die finale rondte het weereens gewys dat die liga ’n sterk teelaarde vir fietsrytalent in Limpopo is, met plaaslike skole wat trots hul stempel afgedruk het.

Louis Trichardt se skole spog ook met talle ryers wat hulle Limpopo kleure ontvang ná afloop van die laaste wedren. Die Laerskool Louis Trichardt ryers sluit in Evené Botha, Drian de Swart, Diane Griesel, Mauritz Meiring, Luan Smit, Christopher Swart, Timothy Thompson en Mia Venter. Trappers van CVO Zoutpansberg sluit in Rigte Joubert en Gunther Joubert, met Mekyla Prinsloo tuisskoler. Die ryers van Hoërskool Louis Trichardt sluit in Kristen Thompson, Amelia Scheepers, Angelique Steyn, Cara Bruce en Elané Visser. Die seunstrappers wat hulle kleure verwerf is Eli Signer, Salem Signer en André van Ree.

 

 
 
 

Viewed: 1456

 
 

Karla van Zyl

Karla van Zyl joined the newspaper team in February 2021 as a junior intern.

 
 

 
 

Most Read Articles

 
 

Sponsored Content

Recent Headlines