

ADVERTISEMENT:

Generic image.
Date: 26 September 2025 By: Andries van Zyl
Louis Trichardt se eerste span rugbymanne en afrigters is gereed vir hulle eerste kragmeting in SA Rugby se Pick n Pay Gold Cup-reeks wat eerskomende Saterdag, 27 September, afskop.
In die aanloop tot die naweek se spel het Louis Trichardt se manne op Saterdag, 20 September, tuisveldvoordeel geniet in ’n opwarmingswedstryd teen die Harlequins-rugbyklub van Pretoria. Dit was ’n spannende wedstryd, maar met die blaas van die eindfluitjie was dit die Harlequins wat met 27-25 geseëvier het. “Die wedstryd het baie wipplank gery,” het klubvoorsitter Brian du Plooy gesê.
Ten spyte van die naweek se nederlaag fokus Louis Trichardt hulle nou voluit op hulle openingswedstryd teen die Welkom Rugbyklub in Welkom op 27 September.
“Ons is reg vir die Gold Cup. Ons vertrek Vrydagoggend na waar ons gaan oorslaap Vrydagaand. Die wedstryd is 15:00 Saterdag,” het Du Plooy gesê. Sou ‘n aanlyn-skakel na die wedstryd beskikbaar wees, sal dit aan plaaslike ondersteuners gekommunikeer word.
“Ons sien uit na ‘n baie goeie span van die noord Vrystaat, oftewel van die Griffons. Dit was hulle nommer een span wat gekwalifiseer het. Ons het deurgegaan as nommer twee. Maar ons sien kans vir hulle en ek dink ons dinge gaan reg loop. Ons het geen beserings nie en ons is gelukkig wat dit betref,” het Du Plooy gesê.
Vir Louis Trichardt se manne is hulle opponente van Saterdag ‘n nuwe ervaring. “Dit is iets nuuts vir ons. Ons ken glad nie die mense nie. Ons weet nie hoe hulle speel nie, maar ek dink dit gaan ‘n harde wedstryd wees. Ons sal egter alles moet doen om deur te dring na die volgende ronde se wedstryd die naweek daarna,” het Du Plooy gesê.
Viewed: 1517

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.




