ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Graad 10-leerder Marike Theron saam met Albert van Wyk, wat die Maak My ’n Miljoenêr-kompetisie vir hoërskoolleerders begin het. Hierdie jong Louis Trichardter en oud-leerling van die Zoutpansberg CVO was algeheel derde in dié landwye kompetisie. Foto verskaf.

Van Kiekie Koekies tot miljoenêr-drome

Date: 31 October 2025 By: Andries van Zyl

Die 16-jarige Marike Theron van Louis Trichardt is weereens bewys daarvan dat daar geen tekort aan talent in die Soutpansberg is nie. Dié Graad 10-leerder van Merensky Landbou Akademie het die afgelope jaar deelgeneem aan die gewilde Maak My ’n Miljoenêr-kompetisie en algeheel derde in die land geëindig.

Die Maak My ’n Miljoenêr-kompetisie is die breinkind van Albert van Wyk. Nadat hy sy eerste miljoen op 22-jarige ouderdom gemaak het, het hy besluit om dit sy lewensmissie te maak om entrepreneurskap onder hoërskoolleerders aan te wakker en as mentor vir hulle op te tree. Hy het hoërskole begin besoek en jong entrepreneurs uitgenooi om vir die kompetisie in te skryf. Die kompetisie is omskep in ’n TV-reeks, nou in sy derde seisoen, wat weekliks Donderdagaande op DStv se VIA-kanaal (kanaal 147) uitgesaai word. Die laaste episode van die reeks, met ’n terugblik op die gala-aand en landswye prysuitdelingseremonie by die Atterbury-teater in Pretoria op 14 Oktober, sal hierdie week uitgesaai word.

Marike, wat tot en met Graad 7 ’n leerling van die CVO Zoutpansberg was, het haar besigheid, Kiekie Koekies, vir die kompetisie ingeskryf. Die naam is letterlik afgelei van die rede waarom sy aanvanklik verlede jaar sjokoladekoekies in die koshuisgange by Merensky begin verkoop het. Sy wou bitter graag vir haarself ’n netjiese Canon-kamera koop, en pa Orion en ma Adri het beloof dat, sou sy die helfte van die geld bymekaar kon kry, hulle haar die ander helfte vir haar verjaarsdag sou gee. Marike se koekies het so goed verkoop dat sy sommer vinnig die kamera kon afbetaal.

Albert het vroeg vanjaar Merensky besoek as deel van sy landswye besoeke aan hoërskole vir die kompetisie. Alhoewel Marike in daardie stadium nie meer koekies verkoop het nie, was sy so deur Albert se besoek geïnspireer dat sy ingeskryf het. Sy het egter haar “produk” van sjokoladekoekies oorgeskakel na sjokoladebruintjies (chocolate brownies).

Die kompetisie het agt maande geduur, met die eerste episodes van die reeks wat in Augustus begin uitsaai het.

Behalwe vir Marike het ’n medeleerder, Henk de Wet (Graad 12), ook saam met haar ingeskryf. Henk het ná sy deelname aan ’n Tritech-kompetisie ’n paar jaar gelede versoeke gekry om sy grondkondisioneerder, wat water spaar en erosie verminder, te bemark en te verkoop. Beide Marike en Henk is gekies as deel van die eerste 50 finaliste. Saam moes die twee ook slypskole bywoon oor mentorskap, onder andere deur Albert self. Ná die “brandbank” uitdunronde in die Julie-skoolvakansie het Marike en Henk dit gemaak tot in die top 30 finaliste. Die brandbank is wanneer deelnemers voor vyf beoordelaars verskyn wat jou dan uitvra oor elke aspek van jou besigheid.

Marike en Henk het dit later gemaak tot in die top 20 en met die gala-aand op 14 Oktober tot die top 10. Tydens dié spoggeleentheid is Marike aangewys as die wenner van die derde plek — tot groot opgewondenheid van haarself, haar ouers en haar skool. Die algehele wenner van Maak My ’n Miljoenêr Seisoen 3 was Riaan du Toit, ’n Graad 11-leerder van Hoërskool Overvaal in Vereeniging, met sy geelvet-biltong wat hy onder die naam Biltongboer verkoop het. Tweede was Alexis van Staden, die 14-jarige leerder van Goudveld Hoërskool in Welkom, met haar besigheid The Bubble Tea Monster.

Marike het haar ervaring van die kompetisie goed opgesom in die toespraak wat sy tydens die prysuitdeling gelewer het. “Ek het my besigheid begin met ‘n groot droom, om my kamera af te betaal, en het dit reggekry deur tjoktjip koekies in die koshuisgange te verkoop. Voor ek my oë kon uitvee, het hierdie besigheid vlerke gekry. Naweke het net te besig geraak met sport en ek moes Kiekie Koekies stop. Tot Oom Albert ons skool kom besoek het en my inspireer het om weer te begin, maar hierdie keer slimmer, meer tyd effektief en minder arbeidsintensief,” het Marike gesê.

Dit was juis as gevolg van Albert se advies dat sy oorgeskakel het na sjokoladebruintjies. “So het ek dit reggekry om oor te skakel na brownies toe en in te skryf vir die Maak My ‘n Miljoenêr-kompetisie. Hier het Albert my ook geleer hoe om probleme in alledaagse uitdagings op te los. Hoe om positief te bly, al verloor jy drie keer in die uitdaagrondes. Hoe om jou omset van R7,000 ‘n maand na R70,000 ‘n maand te verander. En die belangrikste van alles, hoe om ander mense te help in jou finansiële geleenthede. Dit is waarna Kiekie Koekies streef. Om ander te help,” het Marike gesê.

Wat dit betref, het sy genoem dat sy deur haar besigheid 12 koshuisleerders, asook twee werknemers en verskeie skoolprojekte, kon ondersteun. In ’n stadium het Marike tot 1,000 sjokoladebruintjies per week by die skool verkoop. Sy was so suksesvol dat sy “verkoopsagente,” oftewel Graad 8’s wat nog nie so hard hoef te leer nie, by die skool kon kry wat vir hulself lekker sakgeld kon verdien deur namens haar te verkoop.

Tog besef Marike dat haar sukses nie aan haar alleen te danke is nie. “Ek sou dit nooit alleen kon gedoen het nie en sê daarom baie dankie aan ons Hemelse Vader, my familie, al my vriendinne, die Merensky personeel en kinders, my koshuiskamermaat en al die koshuiskinders,” het Marike gesê.

Natuurlik is haar ouers ongelooflik trots op haar. “Ons is baie trots op haar. Sy is regtig ‘n vasbyter!” het Adri gesê.

As prys het Marike R15 000 gewen, ’n jaar se verdere mentorskap van Albert, asook ’n jaar se hulp met media en bemarking.

Vir nou eers weer bietjie fokus op die akademie, veral met die jaareindeksamens op hande.

 

 
 
 

Viewed: 1192

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

 
 

Most Read Articles

 
 

Sponsored Content

Recent Headlines