ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Marette Venter (links agter) van Mud & Mingle saam met Evert se twee keuses, Lauren (links voor) en Theresa (regs van Marette) tydens die Boer Soek ’n Vrou-opname. Foto verskaf.

Louis Trichardters skitter op Boer Soek ’n Vrou-episode

Date: 24 October 2025 By: Andries van Zyl

Plaaslike aanhangers van kykNET se gewilde Boer Soek ’n Vrou-reeks is verlede Donderdagaand aangenaam verras toe nie net die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging (DBV) lugtyd as deel van die mees onlangse episode ontvang het nie, maar ook Marette Venter se pottebakkersateljee, Mud & Mingle.

Beide Marette en Alicia Thomas van die plaaslike DBV het ná afloop van verlede week se 12de episode van Seisoen 17 van die reeks gesê dat hulle letterlik gebrand het om mense daarvan te vertel, maar dat hulle vroeër vanjaar ’n NDA (non-disclosure agreement) moes teken wat bepaal het dat hulle vir niemand van die opnames mag vertel alvorens die episode op televisie uitgesaai is nie. Maar nou kon hulle die stilte breek.

“In Februarie vanjaar het ons plaaslike DBV ’n baie spesiale besoek gehad; die Boer Soek ’n Vrou-span het by ons kom draai. Toe kykNET se produksiespan ons laat weet dat een van die top vyf boere van die nuwe seisoen uit ons eie omgewing kom, was ons nuuskierigheid groot,” het Alicia gesê. Hulle opgewondenheid was nog groter toe hulle hoor dat die boer die 38-jarige Evert is, ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise.

Hulle was baie bly, want Evert was reeds aan die plaaslike DBV bekend. Hy het verlede jaar ’n hond by hulle aangeneem en die DBV-span weet al lank dat hy ’n groot hart het en ’n sagte plek vir diere.

 

Toe Evert sy Boer Soek ’n Vrou-aktiwiteite moes kies vir Lauren en Theresa, het hy besluit dat een van sy aktiwiteite tyd saam met die diere by ons DBV moes wees. Dit was ook in lyn met die reeks se doelwit om vanjaar blootstelling te gee aan nie-winsgewende organisasies soos die DBV. So het boer Willie van Mpumalanga se twee nooiens, Cilmari en Denike, die Jane Goodall Institute vir mishandelde sjimpansees besoek.

Maar terug na Evert se Lauren en Theresa. “Die dag was vol lag, liefde en swaaiende sterte,” het Alicia gesê.

Volgens haar het die hele plaaslike DBV-span verlede week trots voor die televisie gesit om te sien hoe hulle skuiling en diere hul oomblik op televisie kry. “Wat ’n spesiale oomblik!” het Alicia gesê.

Ook Marette het haar oproep in Februarie vanjaar ontvang. “Op 3 Februarie kry ek ’n oproep, en die ‘verkenner,’ Danie, sê hy is van kykNET,” onthou Marette. Maar sy was onmiddellik agterdogtig. “Ek het dadelik gedink iemand skeer met my die gek, en ek het probeer uitmaak wie se stem dit is. Intussen speel ek saam en antwoord die vrae wat hy vra,” het Marette gesê.

Danie het vir Marette gesê hy het haar op Google opgespoor, kort nadat sy haar pottebakkersateljee, Mud & Mingle, se ligging aanlyn opgestel het. “In daardie stadium was my studio nog net ’n leë dop wat ek begin verf het. Ek sê toe vir hom nee, die studio is nog nie klaar nie, maar hy dring toe aan dat hy net die daaropvolgende Dinsdag wil kom kyk — hulle kort net ’n hoekie, want hulle dink dis ’n oulike aktiwiteit vir hulle program,” het Marette gesê.

Vir Marette was dit egter ’n wekroep om haar dinge agtermekaar te kry. “Ek spring toe in die bakkie en gaan koop hout, sodat daar darem ’n rak in die plek staan. Dinsdagoggend tienuur staan die rak, en Danie kom daar aan. Hy is tevrede en vertrou my toe ek sê dat daar teen Sondagmiddag — opneemdag — ’n funksionerende studio sal wees. Dis toe eers dat hy vir my sê dis vir Boer Soek ’n Vrou,” vertel Marette.

Die volgende klompie dae het Marette geswoeg en gesweet om alles gereed te kry. “Die plan was om later die ateljee oop te maak, maar kykNET se besoek het beslis die datum vervroeg!” voeg sy by. Daardie Sondagoggend tydens kerk, het sy vertel, het sy bevestiging gekry dat sy die regte stap geneem het. “Toe speel die openingslied Soos klei in die hand van die Pottebakker, en ek weet alles het in plek geval soos dit moes. Ek kan maar rustig wees,” het Marette gesê.

En rustig was sy beslis voor die kameras. “Daar was ses of sewe bakkies met spanne vir klank, ligte, water en wat nog. Elkeen het presies geweet wat om te doen. Die ervaring was regtig wonderlik! Die hele span was so gemaklik en het my baie gerus laat voel. Lauren en Theresa was ook baie oulik. Hulle het elkeen kans gekry om op die wiel te werk, en toe het elkeen ’n potjie met die hand gemaak terwyl ons lekker gesels het,” het Marette vertel.

Vir dié wat nog nie weet nie — hier kom ’n spoiler alert! Evert het die aand vir die Engelse nooi Lauren gekies.

“Ons wil vir Evert baie dankie sê dat hy ons DBV deel gemaak het van sy Boer Soek ’n Vrou-reis en dat hy ons gehelp het om wonderlike blootstelling te kry. Elke bietjie bewustheid help ons om aan te hou doen wat ons doen … om diere te beskerm en vir hulle die beste huise te kry,” het Alicia gesê.

Vir diegene wat graag ook vir Evert wil ontmoet, is daar goeie nuus. Hy is op 31 Oktober een van die gaste tydens die plaaslike DBV se jaarlikse veiling wat by Vijgeboomsdrift aangebied word. Kaartjies kos R250 per persoon ouer as 13 jaar en R100 per persoon jonger as 13 jaar. Die gaskunstenaar dié aand is Jacques Mouton.

 

 
 
 

Viewed: 2580

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

 
 

Most Read Articles

 
 

Sponsored Content

Recent Headlines