ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Die AGS Louis Trichardt se totale kompleks, insluitend kerkgebou, saal, pastorie en kantore waaruit die CMR tans bedryf word, is in die mark. Die gemeente se pastoor Evan Corbett het egter lidmate en inwoners die versekering gegee dat dit nie beteken die gemeente gaan sluit nie.

Kerk in die mark, maar gemeente maak nie toe nie

Date: 23 October 2025 By: Andries van Zyl

Pastoor Evan Corbett van die AGS Louis Trichardt het lidmate en inwoners die versekering gegee dat alhoewel hulle kerkgebou in die mark is, hulle as gemeente nie van plan is om toe te maak nie.

“Ons gaan die kerk verkoop — die hele kompleks, insluitend die kerkgebou, saal, pastorie en die CMR se kantore,” het Corbett gesê.

Volgens Corbett het hulle tot die besluit gekom vanweë stygende kostes om hulle huidige perseel in stand te hou. “Die onderhoud op hierdie plek is erg. Hierdie kerk is verskriklik duur gebou. Die dak kos ons R100 000 elke vyf jaar om reg te maak, want die versekering stipuleer dit,” het Corbett gesê. Verder styg hulle maandelikse munisipale koste vir elektrisiteit, water en tariewe ook maand tot maand.

“Ons het toe besluit om die plek as kerk te verkoop,” het Corbett gesê.

Die perseel is reeds gelys by ’n plaaslike eiendomsagentskap. “Ons kyk om twee erwe te koop waar ons ’n nuwe, meer moderne kerkkompleks kan bou. Ons wil alles net meer kompak maak — die kerkgebou, saal, Sondagskoolfasiliteite en kantore,” het Corbett gesê. Die idee is ook om die nuwe perseel van die netwerk af [off the grid] te kry om munisipale koste te bespaar. Wat hulle kantore betref, waaruit die plaaslike CMR tans bedryf word, het Corbett gesê dat die CMR sal saamtrek na die nuwe perseel.

“Die boodskap wat ons graag wil uitdra, is: Ons maak nie die kerk toe nie! Ons skuif net die kerk ten einde te verseker dat sy nog 100 jaar oud kan word – om haar voorbestaan te verseker,” het Corbett gesê.

Afhangend van hoe vinnig die perseel verkoop word, het Corbett gesê, het hulle ’n drie-maande periode van grasie ná registrasie in die koopkontrak laat inskryf. In dié drie maande sal hulle okkupasiehuur betaal, terwyl hulle “nuwe” kerkperseel voltooi word. Alhoewel hulle nog nie ’n nuwe perseel gevind het nie, sou Corbett reeds hierdie week met die argitekte vergader.

“Ons wil so gou moontlik begin. As dit nodig is, sal ons ná die drie maande maar ’n saal of leë plek huur vir drie of vier maande, totdat ons nuwe perseel voltooi is en ons kan intrek,” het Corbett gesê. Hy het weereens sy boodskap aan inwoners herhaal. “Asseblief, die kerk maak nie toe nie!” Corbett het inwoners uitgenooi om hom te skakel by tel. 084 457 7596 indien hulle meer inligting benodig.

 

 
 
 

Viewed: 2441

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

 
 

Most Read Articles

 
 

Sponsored Content

Recent Headlines